Jean Guilford kyk na haar man, besef hierdie is sekerlik die honderdste keer wat hierdie man sy verwyte uiter, sy hele kindwees met soveel pyn beleef, en sy weet, dit moet nou end kry.
“Hoe maak ek dit reg Jean? Ons het regtig niks in gemeen nie.”
“Regtig Jeysen: niks. Jy maak seker ’n grap, vir my is jy en jou pa dieselfde tot in julle kern.”
Die twyfel is in die blou oë, en met die ontkennende swaai van die pragtige blonde kop vee hy die aanmerking weg.
“Hoe sal jy weet? Jy het hom nooit ontmoet nie; ons het nooit oor enigiets ooreengekom nie; elke gesprek het voortdurend in onenigheid geëindig.”
“Jy is reg, Jeysen. Ek het hom nooit ontmoet nie, maar na tien jaar se voortdurende herlewing van jou en jou pa se lewens saam glo ek, ek ken julle albei, en of jy dit wil glo of nie, julle twee was konstant in konfrontasie omdat julle presies dieselfde is. Dink Jeysen - dink.”
Die plooie op sy voorkop, dieselfde reaksie wat sy honderde kere ervaar het sedert sy hierdie wonderlike man ontmoet en met hom getrou het.
Die skud van sy kop, “Daar is niks dieselfde nie Jean, hy kon net nooit met my saamstem nie, of my kant van die saak sien nie. Hy het altyd gekompeteer en gestry – hy haat my.”
“Onsin, julle het dalk gekompeteer, maar ek twyfel of hy jou haat Jeysen, hy kan jou nie haat nie, jy is so baie soos hy, jy is sy seun. Jy weet, dit is juis daardie karakter eienskappe van hom wat jy geërf het, wat die obsessie gebring het om ’n sukses van die restaurant en alles wat jy aangepak het te maak die afgelope tien jaar.”
Sy sien vir die eerste keer die erken van die waarheid in sy oë – sy weet – vandat hulle seun gebore is begeer hy om sy ouers in sy lewe te hê, in hulle lewens te hê – ’n kind verander alles.
Sy voel ’n beslistheid, “Hierdie keer Jeysen, gaan jy; nee ons, deurdruk om julle verhouding te herstel. Ek kan jou hartseer nie laat aangaan nie, dit raak jou, en dit raak my en dit raak ons seun.”
Sy weet sy wil dit nie na ’n ultimatum laat klink nie, want Jeysen haat ultimatums, maar sy weet, die tyd het aangebreek vir hierdie man vir wie sy bo alles lief is, en sy familie om vrede te maak. Hulle het ’n leeftyd van geluk vermors met iets wat hulle lankal moes opgelos het. Vir haar gesin se geluk vorentoe, moet hierdie kanker wat hierdie man vreet, stop.
Sy sal hom nie net ondersteun nie, sy sal hierdie regmaak dryf, saam met hom die pad stap totdat hulle vrede gemaak het.
Sy sien die trane, die besliste trek op die gesig, “Nee, my pa haat my Jean, die feit dat my ma ná haar ultimatum aan ons twee alles net gelos het en die huis verlaat het, het gemaak dat hy my haat. My besluit om nie ’n Ingenieur te word nie was ook die laaste strooi vir hom.”
Sy sien die skuldgevoel wat hy hierdie tien jaar in hom dra, hom weer vasdruk, “Ek weet vir ’n lang tyd ek was die oorsaak van alles, nie hy nie – ek het my ouers se huwelik vernietig, my ma weggedryf, en veroorsaak dat my pa my haat.”
Sy sien die geboë skouers, kry hom jammer, maar hierdie keer gaan sy deurdruk. Sy het hom nie gesê dat sy drie maande gelede, nadat sy, sy oorspronklike geboorte sertifikaat aangevra het vir hulle seun se geboorte se registrasie, wel sy familie opgespoor het nie. Sy weet hy weet nie eers dat sy moeder tien jaar gelede binne twee weke terug na sy vader is nie, dat sy ouers en sy suster sonder ophou al hierdie jare na hom gesoek het nie, ook nie dat hulle al drie steeds die familie Ingenieurs Maatskappy bedryf nie.
Terwyl hy terugstap na die restaurant kombuis, sy restaurant se kombuis, voel hy die pyn in hom, ‘Hoekom kon sy pa hom nie net liefgehad het vir wie hy was nie’?
Hy weet die afgelope maande vandat hulle eersteling gebore is, was gevul met gedagtes rondom sy ouers, en het hy ’n hunkering om naby hulle te wees, om te deel wat nou sy lewe is, om verskoning te vra, om hulle te sê hy is lief vir hulle.
Hy staan daar tussen sy personeel in die kombuis, hoor die bekende klanke, ruik die besondere reuke, en hy onthou sy moeder in die kombuis, haar kos, haar sagte hand op sy hare, sy pa se skelm oopmaak van die potte en die steel van ’n happie, en hy wens hulle was weer daar.
Maar hy onthou al die insidente in sy kinderjare totdat hy as tiener besluit het dit was nie die moeite werd nie. Sy opsetlike weg beweeg van sy ouers af, en hy weet, hy wil nie dit eendag met sy seun beleef nie.
Hy onthou sy ma se ultimatum, ‘sy sal die huis verlaat indien hy en sy pa nie ophou met die baklei nie’, haar uitloop uit die huis die week voor hy sy skool loopbaan voltooi het, haar intrek by sy suster in haar woonstel en sy hartseer oor wat hy veroorsaak het. Die week wat hy in sy kamer gebly het, en die wegloop soos ’n skelm in die nag sonder om sy pa, sy ma of sy suster te groet – hy het net verdwyn.
Hy het binne twee weke Frankryk toe gegaan waar hy Jean ontmoet het, en waar hulle albei hulle studies aan die Le Gargantua Kulinêre Skool in Gascony voltooi het, en vir sewe jaar gewerk het.
Hy weet – selfs met die duisende kilometers tussen hulle, het sy gewete hom elke dag aangekla, hy was die een wat sy ouer se huwelik vernietig het, en daarom het hy die afgelope tien jaar nie een enkele poging aangewend om die verhoudings reg te maak nie, hy het nie eenkeer eers probeer vasstel wat met sy ma, sy pa of sy suster gebeur het nie – hy was so seker dat hulle verkies om hom nooit weer te sien nie.
Al wat hy die afgelope drie jaar vandat hulle terug in sy geboorte land is onthou het, is hy en sy pa se mededinging oor alles, sy ma se liefde en goedkeuring, die laaste koekie op die bord, die laaste bolletjie in die pot, die laaste stukkie vleis, en skielik is Jean se woorde, ‘jy en jou pa is dieselfde tot in julle kern’, se betekenis duidelik – hulle albei se liefde vir sy ma en alles wat sy verteenwoordig het, daardie mededinging vir haar goedkeuring en liefde, en ja… hulle was mal oor kos… dieselfde kos, sy ma se kos – altyd.
Jean se woorde maal in sy kop, “Hierdie keer Jeysen, gaan jy, nee ons, deurdruk met iets om julle verhouding te herstel,” en hy sou so graag vir sy ouers en sy suster wou wys wat hy geword het, sy gesin, sy lewe deur sy kosmaak’, maar hoe doen hy dit.
Hy laat sy gedagtes gaan oor die drie jaar – hy en Jean se koop van hierdie hotel met die restaurant, hulle twee se vreugde om die plek op te bou, al die liefde wat hier in is, en hy lig die potte se deksels, proe die heerlike kos, sy ma se kos wat sy restaurant op die mees populêre lys drie jaar gelede geplaas het, gesorg het dat hulle elke aand tot oorlopens toe vol bespreek is, en hy weet – hy en sy pa is werklik dieselfde mens.
Jean dink een oomblik hoe sy die gesprek moet hanteer, skakel die nommer, en wag, “Guilford Ingenieurs, hoe kan ek u behulpsaam wees.” Sy weifel een oomblik, “Kan ek asseblief met Eugene Guilford praat, dit is ’n persoonlike aangeleentheid,” en sy voel die spanning.
“Hou een oomblik aan; ek sit u deur.”
Die stem is onmiddellik daar, “Eugene Guilford.”
Jean voel die spanning, weet sy moet deurdruk, “Ken u Jeysen Guilford, is u familie van hom.”
“Ja, hy is my broer,” en die ontsteltenis, “Moet asseblief nie sê hy het iets oorgekom nie,” en sy hoor die trane.
“Nee, hy makeer niks. Ek wou net seker maak dat jy wel sy suster is.”
“Wie is jy.”
“Ek is Jean Guilford, Jeysen se vrou,” en nou huil die mens aan die ander kant van die lyn ontroosbaar.
“Waar is julle,” en Jean weet sy moet eers seker maak hierdie gesin se liefde vir haar man is eg.
“Voor ek dit sê, moet ek weet of julle Jeysen kan vergewe; of julle hom lief het.”
“Daar is niks te vergewe nie. Al wat vir tien jaar in ons gegroei het was ons liefde vir hom, asseblief waar is julle.”
Sy noem die dorp se naam, en die trane is terug, “Minder as drie-honderd kilometer van ons af, en ons weet dit nie. Asseblief laat ons deurkom na julle toe.”
Jean weet dit is die volgende stap, “Ja dit is wat ek wil reël, maar ek wil dit as ’n verassing hou – vir Jeysen en vir jou ouers, asseblief,” en Eugene beloof.
“Vertel my asseblief alles van julle,” maar Jean weet, niks vandag, dit is haar verassing vir hierdie mense, en dit sal Jeysen se voorreg wees om hulle van sy lewe te vertel, en sy sê haar dit, en sy aanvaar dit baie onwillig.
“Wanneer sal julle kan deurkom, moontlik oorslaap indien julle kan,” en die trane is terug, “Vandag, more, enige dag, elke dag.”
“Sal jy ’n geloofwaardige verskoning kan vind vir die besoek.”
“Ja, ek kan, en ek sal.”
“Goed, ek sal alles reël, die blyplek, die ontmoeting, alles. Ek maak ’n bespreking by die Gascony Restaurant hier in die dorp vir sewe-uur Vrydagaand, dan neem ons dit van daar af. Sorg jy net dat julle daar is asseblief,” en hulle lui af.
Sy weet sy het alles onder beheer, hulle sal in een van die familie eenhede hier in die hotel tuisgaan, en sy sal een van die private eetsale reg hê vir die ete en die ontmoeting, en sy is regtig ingenome met haarself.
“Ons is vol bespreek vir Vrydagaand Jeysen, en die laaste groep het aangedui dat hulle almal spesiaal kom om die ‘Moeder se kombuis’ spyskaart van bo tot onder deur te eet,” en sy voel ingenome oor haar eie vindingrykheid.
Sy herken hulle wanneer hulle instap, besef Jeysen en sy pa lyk geweldig na mekaar. Sien Eugene rondkyk, maar sy hou haarself uit die oog – eers die eerste dis voorsit – daardie dis uit hierdie vrou se kombuis wat haar seun vir hulle gaan voorsit, dan sal sy haar eie familie openbaar.
Sy stap saam wanneer die twee kelners die voorgereg in die gietyster pot inneem, gee hulle elk ’n lepeltjie, en vra hulle om elk ’n toets happie uit die pot te neem - ’n tradisie hier in die Gascony – die geleentheid vir almal om daardie ‘gesteelde-happie’ te proe.
Sy sien die verrassing, maar meer die onthou, en die, “Deirdre, hierdie is jou resep, dit kon in ons kombuis gewees het,” en die opkyk na haar, “Wie is julle sjef? Waar het hy die resep gekry?” en sy weet – die tyd is reg. “Laat my gou sien of ek die sjef vir ’n rukkie kan steel sodat u hom kan ontmoet, dan kan u hom die vraag vra,” en sy sien die begrip in Eugene Guilford se oë.
Met die instap in die kombuis kyk hy op, glimlag vir haar soos altyd, “Kan James een oomblik oorneem, daar is belangrike gaste wat gevra het om die Sjef te ontmoet,” en hy trek sy oë, maar hy stap gewillig saam met haar.
Sy maak die deur van die eetsaal oop, vat hom om die lyf en trek hom saam met haar die vertrek in. Sy sien die herken, die skok, die blydskap en die trane op die drie mense by die tafel se gesigte, voel Jeysen se liggaam teen haar een oomblik verstyf, dan sy trane, en almal wat dieselfde oomblik in beweging kom.
Sy stoot die deur toe, stoot hom in sy mense se arms in, en sy voel so trots op haarself.
Jeysen voel sy familie teen sy hart en hy besef daardie begeerte wat hy die afgelope drie jaar gehad het om vir sy mense ’n maaltyd voor te berei met al sy ma se gunsteling resepte het waar geword, en hy weet, sy gebede om te probeer om die verhouding te herstel - om hulle te kry om hom en sy gesin in hulle lewens in te neem is hier, en sy gebed, ‘God laat dit asseblief vir ons werk, ek wil hê my vrou moet my ouers ken, my kind moet sy ouma, oupa en tante ken’ – is verhoor.
Jean hoor die sagte klop aan die deur, weet dit is Dolores wat klein Jeysen bring soos sy met haar ooreengekom het. Sy vat die klein seuntjie, draai om en sit hom in Jeysen se arms, “Stel jou seun aan sy familie voor liefste,” en sy sien die gesigte en die vreugde. Maar meer as dit sien sy die gesig van Jeysen se moeder wat haar arms oopmaak, haar Jean teen haar vastrek, die “Dankie hiervoor, dankie vir jou in ons lewens,” en sy weet, dit is wat sy wil hê, hierdie vrou in haar lewe om haar te leer hoe om daardie moeder te wees wat deur liefde en respek jou gesin se diepste liefde en respek verdien.