Geskryf deur Adri

Nou ja, die boek voorlesing sessie van die top-verkoper, “Memoirs of an Honest Man” is verby, en ons drie sit rustig by ons tafel in hierdie luukse voorportaal, drink die gratis koffie, en kyk na die ry van kopers wat wag vir die handtekening en persoonlike boodskap van hierdie vername “Professor.” Die mens wat kom uit daardie “hoogs-aangeslane-familie” waarvan ook ons pa die naam gedra het. Ek kyk na my broers: en kom ek hou by hulle verdiende byname: “Angel en Hurricane,” (Die name is eie aan hulle persoonlikhede), en die gesigte is soos geoefen van kleintyd af: “uitdrukkingloos-aangenaam,” maar ek sien die spanning in Angel se vingers waar dit op die koevert met die inligting wat ontbreek in ons Professor se “Memoirs” rus, (Die hoofstuk van hierdie “Honest Man” se broer, wat volgens die “Memoirs” as ’n twintigjarige jongman op die slagveld gesterf het), en ek sien die “onthou” skadu“s gooi oor my twee broers se oë. Ek maak my oë toe, weet ek wil graag afsluiting kry vanaand, en my herinneringe loop ’n lang pad, die pad van “Donker wolke kan soms ’n goue rand hê, en blou wolke soms ’n donker rand,” en ons is “fine” daarmee, was altyd. Glo pa en ma was nie altyd alkoholiste nie, op hul trou foto is hulle vandag nog “perfek en pragtig” – hy soos ’n “Clark Gable” en sy ’n “Slanke Pragtige Prinses.” Maar van daar af het dinge met tyd agteruitgegaan, soos maar gebeur het met die manne wat op agtien en negentien oorlog toe is. Die realiteit-hel van die chaos, die bloed en die dood – nie net ons pa nie – baie ander kinders se pa“s ook. Nie altyd ’n wettige verskoning nie, want party pa“s is ordentlik. Die werklikheid van ons kleintyd – al die geskiet, die geskree en geslaan, die nagte se wegkruip in die hoenderhok of bo-op die garage dak wanneer hy lus was om iemand by te kom, en die ewige gelieg oor al die merke op ons lywe. Dit het natuurlik die bure genoodsaak om die Welsyn te bel, nie self betrokke te raak nie, net om te bel. Die dag in die kinderhof, die welsyn se poging om ons te red, en hierdie vername Professor, my pa se ouer broer wat ons redding kon wees, se antwoord op die “bevestiging van die bloed verband,” soos die Landdros dit genoem het. “Nog nooit gesien nie. Glo dit is net drie “Guttersnipers” wat lêplek soek,” en die vinnige onsuksesvolle reddingspoging was verby, maar die “Guttersnipers” benaming (deur hom gegee), het vir altyd gebly. Drie dae later toe ons by die huis kom, was ons goed weg, en pa en ma gereed om te trek, weg van daardie beskermde hande wat soms laat nag wel ’n kombers oor die draad aangegee het. Net op ’n “ek-intieme persoonlike” noot: die wegtrek het ook die einde van my eerste en enigste skool kys beteken, en elkeen ken die seer van so iets. Die verlies van hom met sy blousel blou oë – wat toe die ander outjies in die standerd vyf klas hom gespot het met, “Sy is jou ‘girlfriend’ ” – dit erken het, en met ’n nonchalante glimlag en die optrek van die skouers, ewe voldaan gesê het, “So what. Ja sy is my girlfriend” – was ’n groter verlies as wat meeste mense sal verstaan – maar ook die les van die “so what” wat deur my lewe by my gebly het – wanneer jy gekies het – moet jy daarby “staan en val.” Maar elke nuwe horison bring ook nuwe perspektiewe en uitdagings, en het die lewe daar in die gramadoelas sy eie bekoring ingehou vir my en my twee kleiner broers wat die “Guttersnipers” trio geword het. Die skuif het nuwe karakter eienskappe in ons drie gevestig, wat ons baie goed te staan gekom het later jare. ’n Nuwe era van half-vier opstaan, pak en stook van die koolstoof, deurknie en in die panne sit van die brooddeeg, en voer uitgooi vir die hanskalwers en hoenders voor ons dag begin. Trapfietse skool toe van een dorp na ’n ander gery, en nou-ja dit op sy eie het ons ’n voorsprong gegee. Eerstens was ons fiks, en dit is ’n groot ding in sport en wanneer dit kom by die koes vir koeëls of kookwater, of daardie breë leer belt se houe. Al daardie ratsheid tot ons voordeel natuurlik, en gebore uit die “under-dog” posisie, het ons kompeterende geaardhede ontwikkel, en die “wen,” wanneer niemand weet jy kompeteer nie, was so bevredigend. Tweedens, simpatie by die skool. Die geskiedenis meneer het ons meer as een oggend op die pad gekry – so ’n uitstekende kampvegter wanneer ons soms laat was. So tussen die mynhope, treinspore en gramadoelas het die kleine “Hurricane” dan ook mens begin word. Op ’n mooi dag is die hek oopgelaat, (Sal nooit weet wie nie) en die klein mannetjie vat toe die pad. Met dreigemente van “doodslaan vanaand” fynkam ons die pad, die veld en die treinspore, opsoek na die klein droster. Ek en Angel was dit eens, “Indien ons hom nie kry nie – of indien hy dood is – dros ons.” Ons sou op die Durban goedere trein wegkruip wanneer hy buite Germiston stasie stop – en ons was op dieselfde bladsy, was nooit weer daarvan af nie. Maar soos dit nou maar is met geloof – die klein twak het “tjankend” duskant die treinspore in die dubbeltjies gesit en skree. Al het ons hom in sy afwesigheid beloof dat hy ’n “afstof, ’n oorveeg, en ’n lammie” gaan kry – het daar niks van gekom nie. Ons het die groot woorde aangehaal – “Goddank, die klein “shit” het niks oorgekom nie”. Ook soos dit maar met almal is, het ons, die “nuwe intrekkers,” maar opdraande gekry van die “ou plot kinders.” So soek die knape oorkant die grasveld moeilikheid met Angel, en hy kom “tjank” by my. Eie aan my “hoof van ons kamp beskerming sindroom,” en ja, so ’n bietjie arrogansie – stap ek toe die stofpad in net toe die klein Fourie met sy “Raleigh Bike” in die pad afkom. Nodeloos om te sê – ek klap nie net sy grynslag van sy gesig af nie – maar hom ook van sy “Raleigh” af – moenie vergeet nie, ons was tawwe “Guttersnipers,” gebore en gebrei deur die ontduik van patrone, klappe, en al daardie dinge. Nou ja, dit was nie net die einde van die getorring nie – maar die begin van die kinders van die gramadoelas se respek, en wat ’n wonderlike ding is respek – jy moet hom verdien – en dan moet jy hom lewendig hou en oppas. So uiteindelik het die “ou plot kinders” ’n “kamp-straat-vegter” gehad – en die “nie-plot-kinders” moes in hulle spoor trap. So stap die jaar aan, en maak ek kennis met die hoërskool en verbeel my ek kan dalk iets anders as ’n “Guttersniper” eendag wees, en ons leer so goed ons kan in die paar uur snags wanneer ma en pa “uitgepass” is. Ek leer Angel en Hurricane om soos eekhorings in die groot avokado boom te klim, en dit red hulle menigmaal van die leer belt, en bring natuurlik daardie sakgeldjie wanneer dit avo tyd was. Ek maak die twee manne, netjiese manne, verseker dat geen onderwyser of ander mens ooit nodig het om hulle voete op ons grond te sit om oor ons te kla nie, en ek kyk na my twee broers – steeds “netjiese manne.” Maar helaas kom daardie “plot-era” toe ook op ’n einde. Pa besluit toe daar twee dae voor Kersfees, hierdie wêreld is nie meer vir hom nie, en vir die eerste keer wys die pistool se loop toe nie na ons kant toe nie – maar helaas daar sit ons toe – sonder ’n pa, sonder Kersfees, maar darem ook met net die helfte van die moeilikheid oor. In die volgende maande gebeur daar toe sommer baie dinge. Laat ek hulle een vir een vat en weer beleef. Ons moet van die grond af (drie maande kennis). So waarheen nou. Die besluit is maklik vir ma – Joburg toe – so, “Whala,” Joburg middestad hier kom ons. Soos ons toe ook wel uitvind, die skool in Joburg middestad is bietjie anders as daar in die gramadoelas, meer pa“s wat drink, meer stukkend geslaande gesigte en lywe, meer kinders soos ons, meer boelies, en dit bring die duiwel in my en Angel uit, want hierdie Joburg middestad kinders is nou in ons kamp. Wanneer ek terug kyk moet ek erken – Ma se besluit was ’n goeie besluit, en Joburg middestad was ’n goeie plek om te land. Die onderwysers was effens anders, meer simpatiek as iemand in die klas aan die slaap raak, of net doodeenvoudig nie sy werk kon doen nie. Gou besef hulle is ook maar kleurblind soos by die vorige skole, hulle kon nie die blou kolle en pers hale raaksien nie – maar nou ja, hulle was darem meer simpatiek. Die kinders in Joburg middestad, ons soort kinders, die “shut-up” en moenie “fuss” nie kinders, iets om vir ewig aan vas te hou. Die nuwe omstandighede was nou nie heeltemal in die “no-nonsense” klas nie, maar dit was wat dit was, ons drie alleen in ons kamp by Ma. Die drank, Ma se lus om ons by te kom, die min slaap – al daardie dinge wat ons drie gemaak het wie ons geword het. Met nuwe plekke kom daar ook nuwe mense, ma bring een aand ’n “boyfriend” saam, en hy trek in. Soos die dae aanstap begin hy glo ons is sy slawe, en word die geskree en gedreig al erger en luider. Ons was in die kombuis besig om ons droë brood en swart koffie te eet toe dit begin, “Bring water, bring glase, bring dit, bring dat,” maar ek het my kop geskud en ons het ons brood en koffie bly eet. Die hel was los die oomblik wat die vent instorm: “Julle klein “bastards,” nou sal ek julle ’n les leer, vanaand slaan ek julle dood,” en toe het hy begin slaan met daai belt van hom. Dit was soos bliksemstrale, daai “buckle” het die bloed uit ons uit geslaan. Ek het Hurricane onder die tafel ingestamp, en die warm koffie het omgeval en op hom gedrup, en hy het geskree asof hy dood gaan. “Liewe Here asseblief, nou moet jy help,” het ek gebid. Alles was stukkend, die koppies, die borde, net mooi alles, en toe vat ek die broodmes met die geel handvatsel en ek steek die vent in sy bors, en hy skree soos ’n maer vark wat geslag word. Die belt en die vent het langs mekaar op die grond geval en daar was bloed op sy wit hemp. Ek pluk Hurricane onder die tafel uit net toe ma begin skree: “Jy”t hom vermoor jou gemors, hiervoor sal jy hang,“ en ons drie hardloop die nag in. Ons bly die twee dae tussen die geboue, en kom heel goed oor die weg. Sondagaand met die terugkom by die woonstel, sê die buurvrou “so by-the-way,” “Hulle is nie hier nie,” en ons gaan in, eet die twee dae oue brood klaar, ruim op, en probeer slaap. Die Dinsdag toe ons van skool af kom, is die vent en sy goed weg, en ma in ’n bui wat verwoesting in die woonstel gesaai het. Ma vang een of ander dom ding aan, en die landdros stuur haar twee weke later tronk toe – nodeloos om te meld – en los ons drie met Hurricane sewe jaar oud net so alleen. Maar nou ja – ons was maar altyd alleen, en dit gee ons darem vrede om elke aand te slaap. Een ding wat ons moet sê van Huur Agente, hulle boekwerk is op datum, en eendag toe ons by die woonstel opdaag, staan dit wat van ons goedjies oor was op die sypaadjie. So waarheen nou, en die keuse is die park, of die “Ghetto,” en ons kies die “Ghetto,” want ons het mos twee nagte in die strate oorleef, so ons is reg daarvoor. Ons vat die paar besittings wat ons kan dra en verdwyn die “Ghetto” in. Die koue en die honger dryf ons in die stegies in om kos te soek en teen die wind te skuil, en ons hou vir twee weke uit, waarna ons besef ons is nie “streetwise” genoeg om te oorleef nie, en ons soek slaapplek agter die asblikke by die “Karate Dojo” – en uiteindelik is ons toe “die Guttersnipers wat ’n lêplek soek.” Toe die moeilikheid, en met tyd het ek geweet – ons redding. Hurricane dros weer, en gaan vroeg oggend in die “Dojo” in en blaker ons moeilikheid uit aan die ou man, en dit bring hom uit na waar ons agter die asblikke lê. Die klein knielende mannetjie, (vanaf daardie land waar “skop en slaan” hulle nasionale sport is), met Hurricane wat soos ’n bosluis aan die man se nek hang; se, “Waar is julle mense,” in ’n erg geradbraakte Engels, maak ons wakker. Daar was een oomblik se dink aan hardloop, maar ons was te gedaan, en bly ons net daar lê. Al kon ons teen hierdie tyd regtig sonder om ’n oog te trek baie goed lieg, gee ek hom die waarheid – my “guts” was uit – en hy vat ons in, en hy gee ons kos en ’n blyplek by hom bo-op die “Dojo.” Hy praat na ’n week met ’n man wat ’n skoonmaker by ons ou skool was, en ons skool papiere, sowel as ons geboorte sertifikate daag na ’n paar dae by hom op, en hy skryf ons in die “Ghetto” skool in as sy kleinkinders – geen vrae gevra, geen verduideliking aangebied. Die “kos en die blyplek” word aangevul met soveel geduld en liefde oor die maande, en ons word sy familie. Hy leer ons al daardie dinge wat ’n mens ’n mens maak, die saam leef, die saam lag, die hegtheid van ’n gesin, en die dissipline van die karate, en ons beleef iets wat ons later besef het, “vreugde en geluk” genoem word. Ons “Ghetto pa” se streef na geregtigheid, bring die begeerte om hulle wat uitgelewer is aan dit waarvan ons gered is te help, en ons vorm daardie “Guttersniper” kamp met hom, met ons “Ghetto” boers en susters, en ons vat die boelies vas, en ons dwing hulle “Dojo” toe, en hy leer hulle dissipline en omgee vir ander – met soveel liefde en respek. Drie jaar later sê hy ons, “Ek het julle ma gekry, dit gaan goed met haar, sy is getroud met ’n Professor van die Universiteit,” en ons weet, dit is die naamgewer van die “Guttersnipers,” ons pa se broer. “Wil julle na haar toe gaan,” en ons sê nee, ons was nie goed genoeg vir daardie familie lank gelede nie, en nou is hulle nie goed genoeg vir ons nie – ons het ’n pa, ons is ’n gesin, en hy aanvaar dit so. End uit – “Guttersnipers” gebly. Bedryf saam die karate-, stoei-, en boks klub, met die twee ekstra vloere bo die “Dojo” se toegevoegde veilige hawe hier in ons “Ghetto.” Ons doen saam goed vir ons gesin, en vir die kinders in ons “Ghetto,” en die addisionele inkomste vir die veilige hawe se kos en klere kom uit die toevallige deel van “wie, waar, wie aanrand,” en die “skenkings-bakkie” bewaar die dank vir die aksies geneem. Ek kyk na my twee broers, mooi manne, stil manne, manne met soveel respek en liefde vir ander. Ek sien die leer belt buckle merke ge-ets op die gesigte, en ek onthou die hel, en ek dink aan hoe dit vandag is – niks het verander nie, ouers drink nog, kinders word steeds flenters geslaan, koppe word steeds weggedraai – en die Welsyn – wonder of hulle nog bestaan. Ek korrigeer myself, “iets het verander – die “Guttersniper” kamp met sy groeiende ledetal bestaan, en hulle maak wel ’n verskil aan lewens wat die moeite werd is.” Angel se stem bring my terug na hierdie luukse voorportaal, en die rede waarom ons vanaand hier is – geen woede, geen hartseer, slegs om my pa se broer se herinneringe van sy enigste boetie te verfris. “Dink ons kan maar in die ry inval, daar is net twee mense oor,” en ons drie is reg vir hierdie enigste en laaste kontak met hulle wat net bloed van ons is, nie familie nie. Die Professor is wel twintig jaar ouer as daardie dag in die hof, maar hy lyk goed, bietjie breër, bietjie grys, maar soos ons glo ons pa sou gelyk het op hierdie ouderdom. Dan is dit ons beurt, en hy haal die boek van die stapel af sonder om op te kyk, maak dit oop, en dieselfde stem van twintig jaar gelede: “Aan wie maak ek die boodskap uit,” en dit kom spontaan van ons drie: “Die Guttersnipers.” Ons sien die oë verstar, die trane, die kop wat knak, die “Goddank, julle leef,” en Angel sit die koevert voor hom neer, “Die Hoofstuk oor jou broer wat jy vergeet het om in jou “Memoirs” te sit,” en ons draai weg, stap tot by die deur, kyk terug, en daar is sy, “Slanke Pragtige Prinses” van daardie troufoto wat steeds in ons besit is – “oorstelp, gebroke, trane” en ons stap uit, ons het werk om te doen: twee molesteerders en drie vroue-slaners op ons agenda vannag, en ons vader en familie wat in die “Ghetto” vir ons wag.