Geskryf deur Adri

“Die uitspraak sal oormôre om elfuur gelewer word.” Ek kyk na die gesig van die ryk, vername man aan ons regterkant, sien die grynslag, die spoeg gebaar in ons rigting. Presies wat ek verwag het van ʼn arrogante verkragter soos hy, ʼn man wat nie kan aanvaar dat ʼn dame vir hom mag “nee” sê nie. Ek sien die regter se gesig, sien die oomblik se minagting daarop, en dit is genoeg vir my. Ek is gereed. “Staan,” galm die hofordonnans se stem, en ek vat die hand van my kliënt en help haar op. Druk haar hand sag, die teken tussen my en my kliënt dat sy moet sterk wees. Ek sien die krag in die terugtrek van haar skouers, die uitsluit van die mens langs ons, dit wat jy verwag van ʼn volwasse vrou wat “nee” gesê het vir ’n ryk, vername verkragter. Met die neersak op die bank verkrummel die bravade en stroom die trane. “Hy gaan wegkom, Craig, sy gaan hom onskuldig bevind. Ek wens hy was dood.” Alles onder my vel beaam haar woorde, maar my gesig en houding weerspieël die uitdrukking van ʼn advokaat wat vir reg en geregtigheid veg: oë gefokus, kakebeen-spiere effens bultend, houding regop, woorde konserwatief en professioneel, perfeksie gebore uit vyf jaar se oefening voor die spieël. “Nee, die dood sal te maklik wees, Delia. Verkragters soos hy moet in die openbaar deur die wet skuldig bevind word en moet boet vir hulle dade. Nee, hy moet leef.” Ons wag tot die hof leeg is, en wanneer ons opstaan en omdraai, is haar familie daar: ʼn ma ’n pa, ʼn broer en ’n suster, gespanne, strak. Die stem is dié van ʼn vader wat reeds moed verloor het. “Wat dink jy, Craig?” Ek weet wat ek dink, maar ek sê dit wat reg klink. “Charl, ek glo die Regter sal die gepaste uitspraak en vonnis uitspreek, ongeag wie die man is.” Die twyfel is in die effense swaai van sy kop. “Ek weet nie, Craig, ek glo nie geregtigheid gaan plaasvind nie. Hy is so ʼn magtige en arrogante mens, ek dink hy gaan wegkom met sy wandade.” Weer my geoefende regs-perfekte antwoord: “Ek glo wat reg is, sal geskied.” Ek weet dit sal, en dit maak die maande se werk die moeite werd. “Ek sien julle oormôreoggend om halfelf hier. Probeer tot rus kom.” Die wanhoop loop oor hulle wange, en die minagting vir die mens wat dit veroorsaak het, loop hoog in my. Ek stap die pad deur die hofgebou, uiterlik kalm, sien Speurder-sersant Phelo se hoofknik in die verbygaan, erken dit met die gesigsuitdrukking van ʼn advokaat wat ʼn sterk saak gebou het en feite neergelê het wat ʼn regter onder die nodige druk plaas om die korrekte uitspraak te lewer. Ek ry die dertig minute na Houtbaai, dink aan Speurder-sersant Phelo se hulp en raad die afgelope jaar vandat ek Delia se verkragtingsaak aanvaar het. Onthou sy meelewing met haar gedurende die aanmeld van die saak, sy hantering van die ander dames wat in die privaatheid van my kantore soortgelyke omstandighede van hulle verkragting deur daardie mens gedeel het. Onthou sy woede by die aanhoor van die gemaakte besigheid besprekings wat hy voorhou om sy slagoffers na sy woning te lok, die verdowing van sy slagoffers, die veragtelike dade, en die openlike uittarting en minagting van sy slagoffers na afloop van die daad. Ek onthou Speurder-sersant Phelo se aanvaarding van die vrees van die ander dames om in die openbaar die dade te erken, of om enige saak te maak, maar bo alles onthou ek sy woorde van agt maande gelede: “Ongeag die uitkoms van die saak, sal daar ʼn einde aan hierdie skrikbewind gemaak moet word.” Soos telkens die afgelope maande beaam my hele wese weer eens sy woorde. Ek weet daardie dag kom. Binnekort. Ek hoop die verkragter sal intussen die sonskyn vanaf sy R26 miljoen-huis in daardie ryk woongebied geniet. Ek maak my ham-, kaas- en tamatie-snackwich, drink my koffie en bedink sekere feite wat die verdediging aangevoer het. - Die skuifdeure in die beskuldigde se kamer op die eerste vlak word nooit toegemaak of gesluit nie. Delia was dus nie ingesluit nie en kon slegs skree en iemand sou haar hoor. Korrek, maar verdoof was sy nie daartoe in staat nie. - Die beskuldigde se ‘smartwatch’ het bewys dat hy elke aand, ook daardie betrokke aand, van tienuur af baie diep slaap en gevolglik nie in staat was om die daad te pleeg nie. Weer korrek. Eerstens is die diep slaap die uitwerking van verdowingsmiddels en tweedens kon Delia nie die presiese tyd van die daad onthou nie, want sy was ook verdoof. - Die verwysing na die gebruik van verdowingsmiddels, of dat daar verdowingsmiddels in die beskuldigde se besit was, is foutief, niks kon in sy huis gevind word nie. Weer korrek, want Delia het die pak poeier saamgeneem as bewysstuk toe sy ontsnap het, en ek herroep Speurder-sersant Phelo se woorde etlike maande gelede nadat ek hom gevra het om die substansie te laat toets. “Die man speel met vuur Craig. Dit is Carfentanyl, ʼn swartmark produk wat deur dwelm skeppers vervaardig word deur Fentanyl met ander straat dwelms te meng om die dwelm goedkoper en meer verslawend te maak. Fentanyl is tans die gevaarlikste dwelm in die Verenigde State. Dit is sowat 50 keer sterker as heroïen en 100 keer sterker as morfien. Slegs twee of drie milliliter kan ʼn Afrika-olifant uitsit. Fentanyl is een van die grootste oorsake van dwelm oordosering in die VSA. Ek het geen idee waar hy dit kry nie, maar hy soek moeilikheid.” Die son begin sak en ek skink nog ʼn koppie koffie, eet ʼn Ouma-beskuitjie, en herroep baas-speurder Struwig se lesings oor die aksies en foute van moordenaars in ons finale jaar, agt jaar gelede op universiteit. Hoe elke aksie, elke woord, elke fout, geïdentifiseer kan word en in die aanvoer van ʼn prokureur se saak gebruik kan word. Ek onthou hoe beïndruk ek was met die man se vermoë om elke woord wat uitgespreek word te analiseer, te stoor en te gebruik. Ek oordink elk woord van Struwig se opsomming van die foute wat moordenaars maak: - Moordenaars handel oorhaastig en onbepland. - Moordenaars laat wetend of onwetend altyd ʼn leidraad agter wat na hulle lei. - Moordenaars besoek die plek van hulle misdaad meesal voor én na die daad. - Moordenaars deel hulle frustrasie en voornemens wetend of onwetend. - Moordenaars floreer op erkenning vir hulle daad. Ek trek die chirurgiese handskoene aan, haal die radiobeheerde 20G suiwer tegnologie Bee-Body-hommeltuigie uit die verpakking, monteer die vlerkies wat die fladder- en sweef aksies binne en buite ʼn gebou moontlik maak en herroep die spesifikasies van hierdie klein Bee-Body. “Die Bee-Body bereik ’n spoed van tot 50 km/h, het ’n reikafstand van ongeveer 40 km en ’n battery-leeftyd van 90 minute. Die insekgroottehommeltuigie is ontwerp om plante kunsmatig te bestuif en/of te bespuit met behulp van hervulbare spuit bottels met ’n inhoud kapasiteit van 3 tot 14 ml. “Die spuitbottel meganisme beskik oor die vermoë om ’n fyn mis of ʼn straal te spuit vir die toediening van poeier- of vog formulerings. Die unieke binne meganisme van die spuit bottels help om die produk in die sentraal geleë buis te versamel en sodoende akkurate verspreiding of straal plasing op een sentrale punt van so klein as 2 mm te plaas. Die Bee-Body is tans die stilste hommeltuig op die mark met geraasvlakke van slegs 50 dB, wat gelykstaande is aan ’n sagte gesprek.” Ek haal die poeier gevulde 5ml-spuitbotteljie uit, glip dit in die Bee-Body se pasgemaakte meganisme in, en bevestig op die hand beheerder dat dit korrek in posisie is. Ek sit die plastieksakkie met die poeier in die meganisme en voer ʼn toetsvlug in die woonstel uit om te verseker dat alle meganismes werk en die mikrokameras korrek funksioneer. Daarna gaan sit ek rustig op die balkon op die derde verdieping van die woonstelblok, stuur my Bee-Body die nag ruimte in, en stuur hom uit op sy sending van sestien kilometer. Die Bee-Body vlieg oor die hoë geëlektrifiseerde heining. Ek hou hom op dakhoogte om enige kameras te ontduik, laat gooi hom ʼn draai oor die indrukwekkende grasperk, maak seker alles is stil, en laat sak hom dan vanuit die swart nag af na die balkon. Die groot skuifdeur staan oop. Die verdediging se eerste feit is dus korrek en die Bee-Body sweef die ruim kamer ongehinderd binne. Harde snorkgeluide bevestig diepe slaap. Die Bee-Body fladder oor die gesig van die teiken. Daar is geen beweging nie; die verdediging se tweede feit is dus ook korrek. Die akkurate spuit van die poeier in twee 10 mm-neus openinge volg. Die vervaardiger se spesifikasies is korrek, en my vaardigheid as vlieënier is bevestig. Die Bee-Body fladder oor die bedkassie en met die druk van ’n knoppie ontsluit ek die plastieksakkie vol poeier en kontroleer dat dit effens oop op die kassie land. Die verdediging se derde feit is inkorrek: daar is wel dwelms in die huis. Ek laat die Bee-Body weer oor die gesig fladder en aktiveer die stophorlosie op die selfoon: een minuut, twee minute – en dan die groeiende stilte – die waarskuwings op Google is korrek, Fentanyl is ’n uiters kragtige medikasie. Afhangend van die hoeveelheid en sterkte van die inname, kan die dood binne ’n kwessie van minute intree. Ek bring die Bee-Body huis toe, ontsmet hom, plaas hom terug in die verskaffer se verpakking, verseël die verpakking, en bêre hom by sy makkers. Ek kontroleer baas-speurder Struwig se teorie – - Die regstellende aksies is deeglik beplan. - Daar is geen leidraad agtergelaat nie. - Ek was nooit fisies in daardie woonbuurt nie. - Ek is konserwatief en professioneel en deel geen feite met enigiemand nie. - Ek vra en vereis nooit enige erkenning nie. Die taak is afgehandel en ek gaan slaap. Die volgende oggend gaan ek vroeg kantoor toe, stap betyds oor die straat en is op my pos by die hof om my kliënt en haar familie te ondersteun. Soos die minute aantik op die groot muur horlosie word die gepraat in die oorvol hof luider. Twintig minute oor elf, en die afwesigheid van die vername man, en die ongemak en aanhoudende om kykery van die advokaat by die bank langs ons, raak opvallend. Die deur wat oopgaan en die hofordonnans se doelgerigte stap in ons rigting: “Die regter wil julle in haar kamers spreek.” Ek laat die vername man se advokaat voor my stap, daardie ordentlikheid wat my pa my geleer het. Met die instap is dit duidelik: iets is fout. Speurder-sersant Phelo, die regter en ’n onbekende individu is ooglopend ontsteld. “Menere, ek is so pas in kennis gestel dat,” en die vername man se naam word met respek deur die regter genoem, “gister dood gevind is in sy woning. Dit is nog nie amptelik bekendgemaak nie, maar hy is oorlede weens ʼn massiewe oordosis van ʼn dwelm wat in sy woonstel gevind is. Soos deur die polisie en die Geneesheer Generaal bevestig, word geen vuilspel vermoed nie.” Sy kyk na die onbekende man, en hy knik. “U mag u kliënt inlig van die afsterwe van die beskuldigde, maar ek verwag dat die inligting rondom die dwelms vir eers nie oorgedra sal word nie.” My geoefende uitdrukking van skok kom spontaan: oë wat vernou en toeknip, lippe wat effens oopgaan, my hand wat ’n oomblik op my hart rus. Uit die hoek van my oog sien ek dat die man langs my afsak grond toe. Ek vat hom vas, hou hom staande – voel hy verdien om die regter se volle verklaring aan te hoor en terselfdertyd die krag te voel van ’n wenner se hand. Die regter gaan gelykmatig voort. “Met die afsterf van die beskuldigde sal die saak teen hom nie voortgesit word nie en word die saak dus hiermee amptelik gesluit. Die hofordonnans sal die hof verdaag, en u is vry om te gaan.” Ek gaan deur die trane en onverbloemde dankbaarheid van hulle wat glo dit was die geregtigheid van ʼn Mag van Bo. Ek behou die geoefende uitdrukking van iemand wat glo sy saak was op feite gebaseer, feite wat ʼn skuldigbevinding sou verseker – feite wat ʼn beskuldigde tot selfmoord sou kon dryf. Ek stap my kantoor binne, sien die P.S.-sjokolade op my lessenaar, lees die woorde op die papiertjie ‘Thank You’, maak dit oop en eet dit terwyl ek aan die twintig verkragters dink wat nog op my lys is, want daar is immers geen einde aan die taak van die “Mag van Bo” nie.