Ek sit een oomblik voor ek uit die motor klim, die tamheid is in elke ledemaat na die twaalf ure se nagskof by die Ongevalle Afdeling van die hospitaal hier naby Bellville, en ek kan nie wag vir die warm stort en die slaap nie.
Met die kyk oor die parkeerplekke voor my woonstel, sien ek hom voor my deur, ooglopend tot die dood toe siek, en ek haas my na hom toe. “Darius, wat is fout met jou,” en die ongelooflike blou oë fladder oop, “Weet nie, my maag spoel sonder ophou.”
“Wanneer het dit begin?”
“Laasnag.”
“Waar is Louis?”
“By die skool. Ek het hom afgelaai.”
Ek sit my mediese tas neer, sluit die deur oop, help hom op, en sleep-dra hom na die sofa.
“Lê een oomblik sodat ek my mediese tas kan kry en probeer vasstel wat fout is met jou.”
Die gewone observasies bevestig; niks fout met die hart en die longe nie, maar die maag klink raserig, “Dit is een of ander maag kiem. Ek gaan jou ’n inspuiting gee, en dan moet ons vloeistof in jou liggaam kry, moontlik jou gou deurneem na ongevalle toe.”
Die hand wat verskonend gelig word, “Werner, ek kan nie hospitaal toe gaan nie, ek is seker dit is net ’n kiem.”
“Ek ook, maar jy lyk sleg. Kom ons kyk na die inspuiting en vloeistof hoe jy na ’n paar uur voel.”
“Dankie, ek waardeer dit.”
Die ongemak op sy gesig, “Werner, ek het ’n geweldige groot guns nodig,” ek sien die smeking – ek weet, dit moet belangrik wees, hierdie man vra nie gunste nie – hy doen gunste.
“Vra, en indien ek kan help, doen ek dit vir jou.”
“Sal jy my skof vandag vir my behartig,” dit vat ’n paar sekondes om te registreer wat hy vra, “Jy bedoel, jou kliënte rondry?”
“Ja, my ‘trips’ vir die dag.”
“Kan die maatskappy nie iemand gee nie?”
“Ek wil nie vra nie. Ek moes al twee keer hierdie maand korttyd werk om Louis se skoolsake te akkommodeer. My baas het my gewaarsku, indien ek weer probleme het, ‘fire’ hy my. Werner, ek kan nie my werk verloor nie – asseblief maat.”
Ek kyk na die blonde kop wat amper leweloos op my bank lê. Ek onthou hoe hierdie mens agtien maande gelede, toe ek, Werner, op my laagste punt was, my behoorlik uit die ‘gutter’ uitgehaal het daardie dag toe Brenda my gesê het ons verhouding is verby, haar ouers se woorde gedeel het: ‘Ek sal net nooit in hulle klas kan inpas nie’.
Hy het my in daardie duur swart motor van sy firma gelaai, my vir ’n volle week in sy woonstel versorg, en die gesprek met Professor Kingsley van die mediese skool gevoer om hom te oortuig om my toe te laat om voort te gaan met die kursus. Hy het die onderneming gegee, dat hy sal verseker dat ek elke dag in die klas sal wees, en sal presteer, en daardie belofte is voldoen. Ek is suksesvol deur my mediese studies, hospitaaljaar agter my, en nou in my eerste jaar as ’n gekwalifiseerde mediese dokter in diens van ’n gerespekteerde praktyk.
Ek weet, hierdie guns sal ek met liefde vir hom doen – werklik enige guns wat hy vra.
“Reg met my, het ek tyd om te stort en te eet, of moet ek op pad wees?” en ek sien die dankbaarheid, en ek is bly om dit vir hom te doen.
“Net een kliënt vandag. Hooggeplaaste dame vanaf Johannesburg. Haar vlug land tienuur, en sy kom na die Ingenieurs firma hier in Old Oak Office Park. Ek glo jy het tyd om te stort en iets te eet voor jy ry.”
Ek begin my hemp oopknoop, “Great, ek stort en trek aan, kry jy asseblief ’n pot koffie aan die gang. Ek wil koffie in die warm fles saamneem, so maak genoeg asseblief,” en ek draf deur stort toe.
Met my instap in die kombuis wag die koffie en ham en kaas toebroodjie vir my, en ek sien die warm fles en ’n tweede toebroodjie netjies toegedraai in ‘cling wrap’, en ek is beïndruk met sy poging terwyl hy so siek voel.
“Dankie maat, dit gaan help,” en die arm gebaar bring die, “Nee, baie dankie vir jou hulp,” en dit sluit die transaksie af.
“Die dame se detail is in die lêer op die passasiersitplek, en die naambordjie is ook daar, en o ja, hier is my selfoon, sy het hierdie nommer indien sy wil kontak maak,” en ek sit die foon in my sak.
“Jammer hiervoor, sal jy Louis by die naskool kan oplaai asseblief, ek het vanoggend gereël vir hom om tot sesuur daar te bly. Jy behoort terug te wees van die lughawe want die dame se vlug is sesuur, en ek glo jy sal haar teen vyfuur aflaai,” en dit is reg met my.
Ek help hom na sy woonstel hier langs myne laat hom op die sofa lê, en sorg dat daar water en droë koekies langs hom is.
“Sien jou laat middag. Ek gee hom my foon – “Maar bel as dinge vererger.”
* * *
Die rit, die parkeer, en die deurstap na die ‘Domestic Arrivals’ area is amper tweede natuur by my. Alles dinge wat ek so baie in die verlede saam met Darius gedoen het toe hy my mentor was, en ek sit rustig en wag vir die Hooggeplaaste dame vanaf Johannesburg.
Met die verskyning van die vlug se landing- en ontruiming status staan ek op en gaan staan by die ander bestuurders wat wag. Wanneer die deure oopswaai, lig ons almal ons naamborde, en probeer oogkontak maak met die uitkomende passasiers.
Ek en die dame eien mekaar dieselfde oomblik, en ek weet – hierdie is ’n uitsonderlike vrou, van die silwer-blonde hare, tot by die paar duisend rand se hakskoene – ongenaakbaar, harde uitdrukking, in daardie klas waar ek nooit kan inpas nie.
Ek stap na haar toe, en sy beaam met ’n kopknik en uitdrukkinglose gesig: ‘Sy is Louise Behrensen’, en ek neem die paar duisend rand se leer aktetas by haar.
Ek maak die aanbod soos Darius my geleer het, “Wil u eers die dames-geriewe gebruik voor ons vertrek?” en sy kyk op na my, oordink my woorde, skud haar kop in ’n ‘nee’ en stap aan.
Ek kyk na die hakskoene en hou my arm uit na haar indien sy dalk wel ondersteuning benodig, maar sy wys dit van die hand met ’n effense ruk van die kop, en ek laat dit gaan.
Die rit is in stilte, sy besig op haar foon, en ek met my oë op die pad.
Met die deur oopmaak, en haar aktetas se neem, kom dit saaklik, “Kry my asseblief hier in ’n uur, aangesien ek nog twee vergaderings vandag het,” en ek is reg daarmee – gaan in elk geval hier in die motor vir haar wag.
Ek sit in die motor, neem my oë nie een oomblik weg van daardie voordeur nie, vir ingeval sy gouer klaar is met haar vergadering. My gedagtes stap ’n pad – my pad en Darius se pad. Ek het my verbeel dat iemand van die hoër klas, soos Brenda Gauche, my, ’n weeshuiskind wat met ’n beurs medies studeer, lief kon kry. Ek onthou my hunkering na haar, my elke dag se wens dat ek haar op kampus sou raakloop, die paar maande se onvergeetlike vreugde, toe daardie woorde van haar toe ek na haar familie gevra het: “My ouers het gesê jy sal net nooit in ons klas kan inpas nie.” My ineenstorting, Darius se meelewing, en my wegstap van daardie hartseer.
* * *
Ek dink aan die afgelope jaar se baie oproepe en boodskappe van haar wat ek net geïgnoreer het, die amper daaglikse sien van haar iewers op my pad, in die hospitaal, naby die woonstel, in die winkelsentrum om die hoek by ons, ek weet sy soek toenadering, maar ek sal steeds nie in hulle klas inpas nie, en ek probeer haar uit my gedagtes uit ban.
Darius se deel van daardie klein bietjie insig in sy eie verlede toe hy my uit my depressie opgetel het, en my gedwing het om weer te leef – “Ek kon my ryk, vername ouers se weersin vir my, en my seksualiteit, net nie meer beleef nie, en ek het net een nag weggeloop, my van verander, en nooit weer teruggegaan nie.”
Hy het sy hand liefderyk oor die slapende seuntjie se kop gevryf, “Daardie een nag se probeer ‘normaal’ wees, het Louis gebring, en ek het daardie meisie al die geld wat ek gehad het gegee sodat sy Louis vir my in die wêreld sal bring – dit het my gered, hierdie pragtige klein seuntjie, en ek het werklik niemand anders in my lewe nodig nie.” – En hierdie vrou waarvoor ek wag, is vir my die beeld van daardie ryk, vername mense wat my en Darius misken het.
Ek maak seker ek is met die motor voor die gebou se deur, weet ek sal nie hierdie ryk, vername mens rede gee om my en Darius by te kom nie. Die inklim en uitklim by die volgende kantore verloop vlot, en ek is op my beste.
Met haar uitstap uit die laaste vergadering om vyfuur is my senuwees gedaan – ons gaan laat vir daardie vlug wees, en sy sien my kommer.
“U kan ontspan; ek het my vlug na sewe uur verskuif,” en ek ontspan.
Ek besef ek sal klein Louis moet oplaai by die naskool voor ons lughawe toe ry, en die senuwees is terug, “Sal u omgee indien ek net gou iemand oplaai, dit gaan vyf minute neem, en teen wat ek gedink het die reaksie sal wees, is sy reg daarmee: ek glo sy besef sy het al die reëlings deurmekaar gekrap.
Die mannetjie is reg wanneer ek instap, terwyl ek nog die ontvangsregister teken, draf meneertjie met sy rugsak en die koel houertjie waarin Darius elke dag sy huis-toe-ry ‘snack’ inpak, voor my uit na die motor, pluk die agter deur oop, en spring in.
Die vrou se gesig wanneer ek inklim is geskok, starend na klein Louis, en ek kan nie glo dat sy so geskrik het vir die klein seuntjie nie. Louis se, “Hallo tannie, jy is mooi,” is so eie aan hom, en ek sien die knip van haar oë.
Die stem kom effens gesmoord, “Hallo, en wat is jou naam?” en sonder om te skroom, “Louis tannie.”
Ek wag vir hom om sy veiligheidsgordel vas te knip, en met die omkyk sien ek die vrou staar steeds na die mannetjie.
Ek probeer die ongemaklike oomblik verbreek, “Louis ons gaan eers gou lughawe toe, dan huis toe na pappa toe, is dit reg met jou,” en die glimlag, “Dit is reg oom Werner, ek het vir my en die tannie ’n ‘snack’ om te deel,” en hy rits die sak oop, haal een van die ‘cling wrap’ toegedraaide broodjies uit en hou dit uit na die vrou wat vasgenael sit.
“Hier, tannie, ’n broodjie wat my pappa gemaak het,” en hy haal een van die botteltjies sap uit en gee dit ook aan haar.
Ek hou die twee in die spieël dop, sien die vrou se bleek gesig, en Louis se ingenomenheid met homself. Ek vleg deur die verkeer in Ou Paarl weg in die rigting van die R300, en ek voel verlig wanneer ek besef die verkeer vloei goed.
“Kyk tannie, hierdie is my pappa wat die broodjies gemaak het,” en ek sien Louis die foto wat Darius in die kos houertjie se sakkie vir hom gesit het, na haar uithou.
Die hand met daardie duur juweliersware neem die foto, lig dit op, dan die geluid asof sy verwurg, en sy val skuins oor die sitplek met haar kop op klein Louis se skoot. Die mannetjie kyk op na my, vryf sag oor die silwer blond hare, “Oom Werner, die tannie het ‘uitgepass’.”
Met die opkyk sien ek die vulstasie wat net om die hoek van ons woonstelblok is, en swaai daar in.
Met die oopruk van die agterdeur sien ek hoe klein Louis van die koeldrank op die vrou se gesig en duur uitrusting stort, en daardie ‘f-woord’ gaan deur my gedagtes.
Sy maak haar oë oop, en my verskoning is dadelik daar, “Ek is werklik jammer hieroor,” en ek probeer desperaat die koeldrank vlek droogmaak met my sakdoek.
Sy vat my hand vas, “Dit is reg, laat dit gaan,” maar my verskonings borrel net uit. Indien hierdie vrou hierdie voorval aanmeld gaan Darius sy werk verloor – en dit deur my.
Ek kyk na die klein mannetjie se geskokte gesig, weet hy is op hierdie oomblik belangriker as hierdie dame vir my, “Ek is jammer om te vra, maar ons is een minuut weg van die huis. Sal u omgee indien ek klein Louis net gou by sy pappa aflaai.”
Die instemmende kopknik, en die kyk na die klein mannetjie wat steeds haar hand stewig in sy een hand vashou, en die ander handjie wat oor haar silwer-blonde hare streel raak my aan. “Dit is reg met my.”
Met die stilhou voor die woonstel is ek onmiddellik uit die motor en maak die deur oop om Louis uit te laat. Sy vat my hand, en ek hoor myself: “Dit sal een minuut neem; u kan net hier in die motor wag,” en ek wys na die woonsteldeur voor ons.
Sy skuif uit die motor, “Kan ek moontlik die badkamer geriewe gebruik,” en ek skaam my vir myself.
“Ja, natuurlik, kom asseblief saam.”
Ek sien die voordeur oopgaan en klein Louis wat in Darius se arms inspring, “Pappa, die tannie wil ons badkamer gebruik.” Darius se opkyk, die verbleking, die afsak tot hy plat op die stoep se vloer sit, en ek weet hier is groot fout.
Die gesmoorde hartseer, “Darius,” van die vrou hier langs my, verstom my, en dan hardloop sy oor die plaveisel met daardie duisend rand se hakskoene, sak op haar knieë, en trek Darius en Louis teen haar vas. “Moeder,” en Darius bars in trane uit, en ek besef wat aan die gang is. Alles maak skielik sin, ek weet waarom Darius vandag konsuis siek was, en my gedagtes met die koffie en toebroodjies wat hy so vinnig vanoggend in sy siekte gemaak het, is ook nou opgeklaar – hy wou nie hierdie spesifieke kliënt vervoer nie.
Die vrou se ontsteltenis toe sy klein Louis gesien het – hy en Darius lyk werklik baie na mekaar, die Louise en Louis name, en die sien van klein Louis se pappa se foto – haar seun Darius. Ek kyk na die knielende vrou, en ek kan die harde, ryk, vername mens van vandag nie in daardie huilende lyfie vind nie. Ek weet verseker, sy gaan nie vanaand op daardie seweuur vlug wees nie, en dit is so reg met my.
Ek draai om, om die motor se deur toe te maak, en daar staan Brenda Gauche, haar hande in ’n ‘asseblief’ gebaar uitgesteek in my rigting, trane wat vloei oor die wange, haar gesig gestroop van daardie ‘hoër-klas-trekke’ – ek weet op hierdie oomblik, in liefde is daar nie ‘klasse’ nie – liefde is in ’n klas van sy eie, en ek druk die ‘remote’ se knoppie, maak die hek vir haar oop, en loop met uitgestrekte arms na haar toe – almal verdien ’n tweede kans, almal het iemand wat hulle lief het in hulle lewe nodig.