Janus trek sy hemp reg, kan nie glo, hy, ’n man met selfvertroue, voel elke aand wanneer hy voor hierdie deur staan, soos ’n skoolseun nie, en hy weet waarom.
Met die oopgaan van die deur is die twee mooi meisies, Delia en Charmaine daar, en hulle ingenomendheid met sy aankoms is openlik.
“Uiteindelik, gedink jy kom nie meer nie,” en hy skud sy kop, “Nee, hier is ek, en dankie vir die uitnodiging,” en die twee vat hom elk aan ’n arm en trek hom tot in die eetkamer.
Hy sien haar dadelik raak, Elisna, moeder van hierdie twee blondines, en iets op haar gesig vanaand is anders as oor die afgelope dertig dae vandat hy die eerste keer hier ingestap het.
Hy sien die drie manne reeds by die tafel sit, die klere en die gesigte dra die stempel van dit waarvoor hulle vernaam is, en al drie kyk na hom met daardie kyk wat ’n pa sy seun sal gee wanneer hy laat vir ete opdaag.
Hy sien klein ‘vlooi’ aangehardloop kom, en vang haar net wanneer sy in sy arms spring. Hy sien Elisna se gesig, hy weet, sy geneentheid vir hierdie brakkie tel punte in hierdie besonderse vrou se lewe – maar behalwe daarvoor, is dit wie hy is – diere liefhebber, veearts.
Hy gee die klein hondjie ’n soentjie op haar snoetjie, onthou die eerste ontmoeting met die twee blondines wat ‘vlooi’ na sy praktyk gebring het vir haar jaarlikse ondersoek. Die laatmiddag oproep, “Kan hy ‘vlooi’ asseblief by hulle huis kom afgee, hulle sit in die verkeer vas.” Hy onthou sy eerste gedagte, ‘effens oneties en onprofessioneel’, maar hulle was werklik iets vir die oog, en dit bring hom toe na hierdie huis, en hier is hy, dertig kuiers later, en hy weet, daar is geen ander plek waar hy wil wees nie.
Hy soen klein ‘vlooi’ weer op haar snoetjie, sê vir Elisna naand, en groet die drie manne vriendelik, “Naand, ek is Janus Coertze,” en die naam uitruil sessie verloop met die stewige handdruk wat ’n pa sal gee om outoriteit te wys, en hy ignoreer dit – maar hy onthou die name en die titels – dominee Werner Nortje, Professor Roland Du Preez, en Sersant Majoor Jake Goede.
“Nou ja, noudat ons voltallig is, kan ons seker eet,” en hy kyk na die oë wat op hom gerig is, is bly sy het vir hom gewag, en sy ‘skoolseun’ gevoel is effens minder. Hy gee ‘vlooi’ nog ’n soentjie en sit haar terug in die hoek op die matrassie.
Hy sien die twee blondines mik om hulle ma in die kombuis te gaan help, maar hy dwing hulle terug na hulle stoele met sy oë en volg Elisna die kombuis binne. Hy weet, sy begeerte om eerder Elisna te help is nie net omdat hy definitief nie met daardie drie manne alleen gelaat wil word nie.
Met die omdraai stamp sy liggies teen hom, en die effense verbouereerde, “Jy hoef nie te help nie,” ignoreer hy met ’n glimlag, “Nee, ek hoef nie, maar ek wil,” en die effense blos op die wange is bemoedigend.
“Goed, indien jy dan wil help, jy kan al die bakke deur neem vorentoe,” en hy vat die eerste twee wat sy in sy rigting hou, hy weet – hy wil haar help.
Die plasing aan tafel pas hom perfek, hy tussen die twee blondines, met Elisna oorkant hom.
Met die hande vat vir die tafelgebed is dit ‘onse’ dominee wat die gebed in ’n kerkdiens omskep, en Janus hoop die kosbakke sal die kos vir die duur van die preek kan warm hou.
Dit is die sersant majoor wat die skaapboud takel, en Janus moet erken – die man kan ’n boud baie kundig dissekteer.
Wanneer die dominee mik om die Vier Nefies se bottel ‘Rose’ te neem, spring hy hom voor, en hy doen die skink werk – na dertig dae glo hy is dit sy reg, en hy wil definitief nie dat die wyn skink in ’n nagmaal opeindig nie. Hy lees uit die effense glimlag op die blondines se gesigte dat hulle op dieselfde bladsy is.
Die drie manne hou die gesprek deur die ete aan die gang, gee mekaar amper nie geleentheid om klaar te praat nie, en almal leer in die uur alles wat daar te leer is van predikant-, professor- en sersant majoor wees, en Janus moet erken, hy is beïndruk.
Soos die aand aanstap sien Janus onse predikant al reg-opper sit uit ergernis vir die ander twee manne se slim stories en openlike aanlê by Elisna.
Hy merk teen die einde van die nagereg is die professor se ‘gô’ so effens uit, die heerlike kos wat hy so kranig weggepak het, net te veel gewig vir die oë om oop te bly.
Hy luister na onse sersant majoor se gevatte spraaksaamheid, en hy besef dit is op ’n vlak waarmee niemand kan meeding nie.
Deur die koffie bedien sorg hy dat die twee blondines die manne geselskap hou, en hy help Elisna bedien. Sorg dat hy haar koppie koffie ingooi en vir haar aangee wanneer sy gaan sit, en hy sien die blos.
Hy hou klein ‘vlooi’ op sy skoot, drink sy koffie, en eie aan sy beroep waar die pasiënte nie verwag jy moet ’n dertig minute konsultasie om gesels nie, spaar hy sy woorde.
Tien-uur is die drie manne gedaan, en hy verlig om hulle duur motors se ligte die straat af te sien verdwyn.
Met die sit terug in die eetkamer kom dit dadelik van Elisna, “So, wat dink julle van die drie,” en hy wie Janus is weet wat hy dink, maar hy spaar sy woorde. Hierdie kuier het hom onkant gevang, van die oomblik dat hy besef het hierdie is ’n siftings proses vir die kies van ’n toekomstige eggenoot vir Elisna, het hy geweet – die horlosie tik, en hy is in die moeilikheid.
Delia is baie beslis, “Liewe vader ma, jy is te jonk en het hopeloos te veel energie vir die drie ou fossiele,” en hy wat Janus is stem stilswyend saam.
Die pragtige gesig draai vererg in Charmaine se rigting, “En wat het jy te sê.”
“O, ek stem saam met Delia: waarom, ma, opsaal met ’n man twintig jaar ouer as ma terwyl ma nog vol lewe is? Ma kort ’n jonger man, een wat nog woema in hom het.” En hy wat Janus is stem weer met ’n kopknik saam.
In die draai van die kop in sy rigting sien hy Elisna is werklik de vieste in, “En jy meneer, wat nooit ’n woord te sê het nie, wat het jy te sê oor my keuses van ’n moontlike huweliksmaat,” en hy kry sy ‘Veearts’ bravade bymekaar.
“Ek stem saam met Delia en Charmaine, hulle pas nie by jou nie,” hy sien die effense lig van die perfekte kop en die bietjie meer verergdheid op die gesig, maar hy druk in een sin deur, “Onse predikant is so pennetjie-orent soos ’n geitjie wat pypolie ingekry het, onse professor is so energieloos soos ’n slang in ’n terrarium na voer tyd, en onse sersant majoor gaan jou klaar maak, hy praat ’n dooie donkie weer aan die draf,” en hy weet hy het sy kwota woorde amper opgebruik, maar hy bly kyk na die pragtige gesig wat nou werklik erg beduiweld is.
Hy sien die effense opruk van die skouers, hoor ’n ander toon in die stem, “Sê jy meneer met die wakker, lenige lyf wat nie vyftig woorde in ’n aand kan sê nie,” en hy hoor die geproes langs hom, maar haar beskrywing van hom gee hom moed.
Sy gaan aan met ’n gesonde blos op die wange, “Terwyl jy nou so baie het om te sê, laat ek jou ook sommer vra, jy wat nou al dertig dae elke aand hier kuier, (en die feit dat sy ook die dae tel is vir hom ’n baie goeie teken) – vir wie van my twee dogters kuier jy nou eintlik,” en hy lig sy wakker, lenige lyf met een beweging uit die stoel uit, druk ‘vlooi’ onder sy arm vas, stap om die tafel, sit sy hand saggies teen haar wang, “Ek kuier nie by een van jou dogters nie, ek kuier by jou.”
Die rooi op die wange verdiep, en die effense glimlag om die oë wat vir een oomblik toegeknyp word gaan nie verby hom nie, “Maar jy is twintig jaar jonger as ek,” en hy help haar reg, “Agt om presies te wees, en dit maak ons nommer pas, gemeet aan hoe vol lewe jy is.”
Hy voel die ‘veearts bravade’ in hom, volg die taktiek vir wanneer jy ’n aggressiewe diertjie tot rus wil bring, trek haar stadig maar beslis teen sy hart vas, voel hoe sy soos ’n bokkie wat moeg geveg is gewillig teen hom nestel, en hy voel haar hande die spiere van sy lenige lyf op sy rug bevoel, en hy is die kluts totaal kwyt, want hierdie deel is nie in sy veeartseny handboek nie.
Die twee meisiekinders sien hulle ma se glimlag waar haar blonde kop teen die breë bors rus, hulle besef, almal in die vertrek het vanaand ’n speletjie gespeel, en gemeet aan daardie skelm glimlag weet hulle wie gewen het.
Die stoele se geskuif, die, “Dankie Vader, uiteindelik,” van Delia, en “Gedink julle gaan nooit bykom nie,” van Charmaine, saam met die toe-klik van die deur, neem die skoolseun gevoel in totaal weg.
Hulle bly warm en rustig teen mekaar staan, geen agenda of handboek verder benodig. Albei weet op hierdie oomblik is hulle nog nie reg met woorde om die gevoel in hulle te beskryf nie, maar hulle weet, al die woorde wat in die dertig dae nie gesê is nie, gaan vanaand gesê word.