Ek drink my laaste koppie koffie, en ek vra myself weer die vraag, ‘is ek verneder of verlig met alles wat die afgelope jare oor my pad gekom het’.
Twintig jaar se huwelik se einde in sig, en ek moet nog eerlik wees oor my emosie daaroor. Die eerste agt jaar was goed, miskien omdat ek te goedgelowig was of moontlik net te blind was.
Daardie gesprek tussen my skoonpa en my man twaalf jaar gelede in sy ouers se huis wat ek toevallig gehoor het, “Seun wat is dit met jou streke, jy weet dit gaan jou, jou huwelik kos in die lang duur.
“Ek is verveeld met my vrou. Ons het niks in gemeen om oor te gesels nie. So daar is die rede.”
“Waarom studeer Luzuia nie verder nie?”
“Asseblief pa, jy weet nie wat jy sê nie. Luzuia is ’n mooi gesig, bankklerk stoffasie, nie graad materiaal nie.”
“Waarom het jy, ’n Mediese Dokter en Universiteits Professor, haar dan getrou?”
“Dit is wat jy en ma wou hê, ’n mooi gesig uit ’n vooraanstaande familie, haar vooraanstaande familie. Onthou jy pa?”
Ek onthou die skok en die pyn, maar ek weet vandag, het dit die afgelope twaalf jaar geweet – dit het my wakker geskud, my laat besef ek was werklik niks behalwe die mooi gesig uit die vooraanstaande familie nie.
Die volgende dag het ek met my baas gepraat, “Staan die aanbod om aanlyn deur Wits te studeer deur die bank steeds?” en die vreugde van ’n man wat my tien jaar ken, “Ja, definitief. Wanneer begin jy?”
“Hierdie jaar indien ek kan, en kan ons dit net tussen ons hou,” en hy was vir al die jare reg daarmee.
Ek onthou die dag toe ek my BComm geslaag het, en ek Wynand se moontlike respons op die nuus wou toets. “Dink jy ek kan vir graad studies registreer.”
“Nee, moenie jouself vir teleurstelling oopmaak nie,” en moontlik om my teleurstelling te versag, “Jy is mooi genoeg Luzuia, jy hoef nie ’n graad te hê nie.”
Dit het my aangespoor, en na die BCom het ek aangehou: Honneurs, M-graad en verlede jaar PhD klaargemaak. Nie een enkele minuut gestudeer of studiemateriaal ooit in hierdie huis gebring nie.
Ek onthou die dag toe ek wel gedink het ek my ouers wou verras met my studies na die Honneurs graad, en my vraag of hulle die Vrydagaand saam met my sal gaan uiteet omdat ek hulle iets wou vertel. My ma se, “Ons is vol bespreek vir die maand, maar indien dit belangrik vir jou is, praat nou gou daaroor,” en dit was nie belangrik nie, so ongesê gelaat tot vandag.
Met die studies en die fokus op my werk het die bevorderings een vir een gekom, en net ek en my baas het geweet, niks ooit met Wynand of my ouers gedeel nie. My prestasies was nie die vooraanstaande familie se saak nie.
Baie gedink oor waarom ek van altyd af niks was nie, wat is dit in ’n mens wat jou ’n gemotiveerde doelgerigte mens, of ’n niemand maak. Gedink aan my ouers en my grootouers, hulle was sosiaal besige mense, het nie tyd vir ‘kinder nonsens’ gehad nie, en wou ’n mooi, stil, onderdanige kind hê – en ek was dit alles, en ek moet erken, dit was reg met my toe.
Het ook probeer onthou of daar ooit motivering van my ouers was vir my om te gaan studeer, en probeer dit nog vind indien daar ooit so ’n oomblik was.
Die onthou van die opdring van my aan Wynand, en vandag besef ek weer die beslistheid van beide ouer pare. Ek en Wynand het geen kans teen hulle gehad nie, en ek probeer ’n verskoning vir hom vind vir al die ontrou.
Iewers in die twaalf jaar het ek hierdie verwyt afgeskud, en het ek ’n gemotiveerde doelgerigte mens geword. Die goeie beplanning, goeie raad van hulle wat wel omgegee het, en my geduld is die wen resep wat my gebring het by vandag.
Deel van vandag se uitweg, Wynand se afwys van my aanbod om tot die huishouding se kostes by te dra, “Luzuia, gebruik jou maandelikse ‘tip’ vir jou mooimaak goedjies, ek het die huishouding se kostes onder beheer,” en die ‘tip’ het oor die twintig jaar so vergroot dat ek drie twee-slaapkamer woonstelle gekoop het nadat die Huislening Bestuurder die ‘Koop en laat jou huurders jou lening afbetaal konsep’ aan my verduidelik het. Wel daardie ‘konsep’ het die afgelope drie maande ’n paar miljoen in my sak gebring, en ek kry daardie ‘Dankie Wynand’ gedagte.
Ek besef weer, al hierdie agteraf studeer, bevorderings wat nooit genoem was nie, en die eiendomme se koop, is seker ook op ’n manier ontrou, maar binne my nuwe twaalf jaar raamwerk, nie so ontrou soos die misken van ’n kind se waarde en kwaliteite nie, of die verneuk van ’n huweliksmaat met ’n ander persoon nie.
Ek probeer onthou hoeveel keer my ouers in my leeftyd my kwaliteite misken het, probeer fokus op wat gesê en gedoen is om my verkleineer te laat voel. My pa se, “Luzuia het nie ’n kop vir syfers en studies nie, so ons het geen ideale in ’n akademiese rigting vir haar nie,” en sy persoonlike ‘gunsteling’, “Jy weet hoe dit met mooi blonde meisiekinders is, nie die skerpste potlood in die houer nie, maar altyd die mooiste,” en ek sluit daardie episode af, en die gedagte is daar wanneer ek na die fotostate van my veertien Universiteits-, en Bank kwalifikasies kyk wat ek vir Wynand hier op die eetkamertafel laat, en my hand streel liggies oor die koevert met dieselfde inhoud wat netnou deur die koerier gehaal sal word vir aflewering by my ouers, en die gedagte is daar, ‘Kry vir julle’.
Wynand en die ontrou. Seker deur die twintig jaar, maar meer openlik die afgelope vyf jaar. Die baie wegbreek naweke en weke, die oorsee kongresse, alles geleenthede wat ’n man skep vir ontrou wees. Die afsit van die selfoon, die hotel ontvangs wanneer ek geskakel het, “Dokter Snijders en sy vrou is uit, kan ek ’n boodskap neem.” Met daardie spesifieke vrou het ek ook vrede gemaak die afgelope vyf jaar, en die gedagte is daar, ‘Good-luck poppie’. Al die bewyse een vir een bymekaar gemaak, wie weet wat die toekoms bring.
Nou ja, genoeg van die treurmare, en terug na die redding. ’n Jaar gelede bevorder na ’n Bestuursposisie in die Finansiële Misdaad Nakomings Afdeling, en ’n passie ontdek – diepe en volledige verstaan van Wetgewing sowel as Reguleerders van lande se eise en stelsels. Baie gou my eerste aanbieding binne die bank aangebied, gevolg deur twee aanbiedings op Industrie en Reguleerder vlak. My vrees vir openbare optrede en my mening deel, oorwin, en baie daarvan gehou.
Toe drie maande gelede, baie groot Industrie Kongres, ek lewer my aanbieding, kry ’n staande ovasie, en dit lig my uit daardie, ‘Ek is niks sindroom’. Met die tee drink, die vat aan my arm, en die dame met die vreemde aksent, “Kan ik u alstublieft spreken?” Ek maak uit dat sy uit Nederland kom, en ek gee haar my volle aandag. Uiteinde van die gesprek, “Heb je interesse om naar Nederland te verhuizen en ons team te komen versterken?” en ek sê: “Ja.”
* * *
So drie aanlyn onderhoude, een week in Nederland om kontrakte te teken, verhuising, en eerste ses maande se woonplek te finaliseer verder, (Gedoen onder die verskoning dat ek ’n Bank Seminaar bywoon), was ek reg vir die res van my lewe, en neem daardie nuwe ‘ek’ oor, en ek beplan.
’n Maand gelede ’n prokureur gaan sien, my hele miserabele lewe en bewyse met hom gedeel, en sy versekering, “Jou saak om te skei is sterk, daar behoort geen probleem te wees nie.” Met dit gesê, my opdrag, “Kry asseblief alles gereed, ek sal jou laat weet watter dag jy die bevel by my man kan aflewer,” en ja, daardie dag is more, by sy spreekkamers wanneer hy terug is van sy week se ‘jag’ in die verre Limpopo, en die gedagte is daar, ‘Kry vir jou’.
Ek weet, die laaste hersien van my verlede moet ek nou doen en dit agter my kry. Ek haal die notaboek bladsy uit my beursie. Die seermaak woorde wat ek oor die afgelope jare neergeskryf het waaraan ek wou werk, en die woorde is so bekend:
Wynand se woorde daardie aan:
> Luzuia is ’n mooi gesig, bankklerk-stoffasie, nie graad-materiaal nie.
Ek neem my potlood en maak ’n regmerkie na die ‘mooi gesig’ ✓, dit is waar, ek is ’n mooi gesig.
Ek maak ’n regmerkie na die bankklerk stoffasie ✓, dit is ook waar, ek was altyd, en is nog steeds uitstekende bankklerk stoffasie.
Ek teken daardie ‘glimlaggende emoji gesiggie’ agter die ‘nie graad materiaal nie’ ☺, en die ‘Ha-Ha’ is in my.
* * *
My Pa se woorde menigmaal gespreek in my lewe:
> Luzuia het nie ’n kop vir syfers en studies nie, so ons het geen ideale in ’n akademiese rigting nie.
Ek teken daardie drie ‘glimlaggende emoji gesiggies’ agter die woorde ‘syfers’ ☺ ‘studies’ ☺ en ‘akademiese rigting’ ☺, weet veral my pa sal hierdie woorde onthou wanneer hy die koevert later oopmaak, en hy sal besef dat die bankwese kwalifikasies en die grade, hierdie uitlating - die uitlating van ’n swaap maak.
* * *
My Pa se woorde met soveel humor gespreek:
> Jy weet hoe dit met mooi blonde meisiekinders is, nie die skerpste potlood in die houer nie, maar darem die mooiste.
Ek gee my pa weer twee regmerkies, jip, nie die skerpste nie ✓, want hierdie potlood het geskryf in haar lewe, en ja, ek bly tevrede met ‘die mooiste’ ✓.
Ek vou die notatjie toe, oorweeg of ek dit in my ouers se koevert wil sit, of vir Wynand wil laat. Ek sit hom terug in my beursie, ‘dit is die antwoorde op daardie toets wat ek altyd gewonder het of ek dit kan slaag’, en nou weet ek – ‘geslaag met onderskeiding’.
* * *
Ek hoor die klokkie, weet dit is die koerier vir my ouers se koevert, want my paar meubelstukke en klere wat ek saamneem na Nederland is reeds vroeër die week weggeneem deur die vervoer maatskappy wat dit sal verskeep.
Ek neem my handsak en my hand bagasie wat saam met my vanaand na Nederland sal reis. Ek laat my bos sleutels op die tafel - sal net die deur toetrek, en neem my ouers se koevert en die koevert met my motor se oorspronklike dokumente.
Net die koerier wegkry, my motor neem na ‘We Buy Cars’ wat ek reeds vroeër die week besoek het en alles afgehandel het vir die verkoop van my motor, en dan die ‘Airport Taxi’ wat my om vieruur by ‘We Buy Cars’ sal oplaai en deurneem na Oliver Tambo waar ek agtuur vanaand met KLM Nederland toe vlieg.
Weg is die jare se vernedering, die miskenning, en veral die, ‘Ek is nie goed genoeg nie sindroom’, en ek sien in my gedagte daardie pragtige waterkanaal voor my nuwe woonstel in Amsterdam, en ek kan nie wag om my nuwe lewe as hierdie nuwe mens wat ek geword het te begin nie, en die gevoel is daar, ‘Ek is so verlig’.